Jou emosies mag dalk net aan ’n draadjie hang ná die dramaturg Saartjie Botha se Toutjies en Ferreria.

Die feesdebuut is stampvol subteks wat handel oor emigrasie – ’n aangeleentheid wat menige Suid-Afrikaner begryp en ten diepste raak.

Dit handel oor ’n ouerpaar wat agterbly nadat al drie hul kinders die land verlaat het. Hul kinders woon boonop op drie verskillende vastelande.

Frank Opperman en Joanie Combrink, wat die egpaar Ferreira vertolk, ráák jou met hul spel.

Op ’n pragtige stel ontwerp deur Wolf Britz is die Ferreiras besig om die laaste goed in hul dogter se huis op te pak nadat sy en haar gesin geëmigreer het.

Aphiwe Livi lewer net so ’n besonderse vertolking as die seun van die huishulp wat eens vir die Ferreiras gewerk het. ’n Mens put baie uit sy vertellings.

Die stuk ontroer, maar die produksie, wat uit twee bedrywe bestaan, is gewis nie net ’n tranedal nie. Dit begin besonder komies.

Nicole Holm is die regisseur van die eerste bedryf wat die laaste uur uitbeeld voordat ’n toneelstuk, Toutjies en Ferreira, opgevoer word.

In dié bedryf is die spelers Esther von Waltsleben, Anthea Thompson, Antoinette Kellermann en Geon Nel te sien.

Al moet die vertoning van Toutjies binnekort begin, heers daar ’n chaos. Van die rekwisiete is soek, sommige verhoogpersoneel is afwesig, dié wat wel daar is, val letterlik oor hul eie voete – jy verkneukel jou in die hopelose pogings om die koekoekklok (skielik skoonveld) te verskans, met Combrink wat dié lompe verduidelikings moet aanhoor. Die regisseur (vertolk deur Kellermann) daag op en haar bui versuur oor dié spulletjie.

Dit is baie snaaks, ’n mens kan jou net nie die spanning indink wat iemand ervaar in sulke omstandighede nie. Wanneer die regisseur uiteindelik ontplof, laat val sy ’n paar hartseer werklikhede oor die teater en noem die foute sommer by die naam. En dan, ná ’n kort pouse, begin die tweede bedryf, met Britz as regisseur.

Botha se aktuele teks is ryk aan interpretasie, dit is ’n aandoenlik-herkenbare storie; noem dit close to home. ’n Mens kan jou daarmee vereenselwig – en dit is die krag van die kunste. Die twee bedrywe blyk verskillend te wees, maar raakpunte is te bespeur.

Die herinneringe wat Livi se karakter deel, laat jou wonder of die Ferreira-kinders werklik so sleg daaraan toe was in hul geboorteland.

Dis interessant hoe die “span agter die skerms” oplaas Toutjies en Ferreira suksesvol na die verhoog kon bring; al het die situasie skaars ’n uur voor die aanvang hopeloos gelyk. Dalk skuil daar iets hierin oor die stand van Suid-Afrika. Dink aan wat vermag kán word, ondanks dit wat verkeerd loop.