Via Litnet

Met die Suidoosterfees wat om die draai is, gesels die hoof uitvoerende beampte van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), Cornelia Faasen, oor die belangrike bydrae wat feeste soos dié tot die kunste lewer.

Sy gesels ook oor die belangrike rol wat NATi in die bevordering van die Suid-Afrikaanse uitvoerende kunste speel, sowel as die opwindende koers wat teater inslaan.

En boonop is daar talle talentvolle nuwelinge in die bedryf wat net so passievol soos Cornelia is oor die kunste, en sorg vir ’n vars en vernuwende aanslag tot teater.

Afrikaans is nie dood nie, nog minder teater.

Om die waarheid te sê, die toekoms van Afrikaans en die teater lyk blink en belowend.

Cornelia, volgens julle webtuiste is die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) ’n “niewinsgewende, selfstandige organisasie, wat hom beywer vir en toegespits is op die bevordering van Afrikaanse teater en toneel”. Wat presies behels dié inisiatief en waarom is NATi se bydrae tot die Afrikaanse uitvoerende kunste belangrik?

NATi is ’n befondsings- en ontwikkelingsinisiatief vir verdienstelike teater wat ’n perspektief of narratief toevoeg tot die Suid-Afrikaanse narratief. Ons is werksaam in Afrikaans, maar posisioneer Afrikaans as ’n inheemse taal van Suid-Afrika wat gelykstaan aan ander inheemse tale en graag met ander taal- en kultuurgemeenskappe saamwerk. Die getal produksies wat ons borg, wissel jaarliks, afhangend van die aansoeke / beskikbare tekste / produksies in ontwikkeling (bedoelende dit wat in die lug rondsweef as potensiële produksies/tekste waarby ons betrokke wil raak). Ons werk nou saam met die groot vervaardigende feeste en teaters in die land om die regte produksies in ’n jaar te identifiseer om die teaterlandskap te dien (ons ondersteun jong én ouer kunstenaars; nuwe en vernuwende werk, maar ook klassieke werk; ons ondersteun ook werk wat genre-vernuwend is, en ook werke waarvan ons weet dat dit by ons meer tradisionele gehore aanklank sal vind). Ons probeer dus leemtes aanspreek, maar ook grensverskuiwend te wees. Ons wil graag gehore uitdaag om opnuut te dink oor die politieke situasie in die land en oor die stand van die wêreld en die rol van die “Afrikaner”. Máár ons wil ook graag teater maak wat gehore opgewonde maak en na die teater sal laat terugkeer.

Die waarheid is dat ons maar bietjie van ’n mixed bag is en konstant moet aanpas by die bedryf en die behoeftes van die onderskeie rolspelers. Die feeste is ons grootste vennote en elke fees het sy eie karakter en unieke gehore, en ons moet hierby aanpas en dit respekteer.

Vertel asseblief ’n bietjie meer oor die projekte waarby jul tans betrokke is.

Ons is tans betrokke by ongeveer 17 produksies by ses verskillende feeste. Verder is ons ook betrokke as borg by Kunste Onbeperk se Teksmark, wat ’n baie belangrike inspuiting in die Afrikaanse teaterbedryf oor die afgelope twee jaar was.

Dan is ons ook betrokke by die skep van ’n nuwe mis, in die tradisie van die Katolieke mis, waarvoor Antjie Krog vir ons ’n nuwe teks skep; Marthinus Basson is aan die hoof van die projek. Dit gaan ’n ware Suid-Afrikaanse mis wees. Maar ek wil nog nie te veel hieroor sê nie – dit gaan wel ongelooflik opwindend wees. Ek glo nie daar was al ooit so ’n projek in Suid-Afrika nie – Afrikaans as die taal van versoening en erbarming.

Cornelia, jy is in 2016 as die eerste uitvoerende hoof van NATi aangewys – wat is van die hoogtepunte en uitdagings van jou ervaring tot dusver?

Die grootste hoogtepunt is waarskynlik die groter samewerking wat tussen feeste bewerkstellig is na aanleiding van NATi se koms, omdat ons gedwing word om gereeld te vergader ten einde die produksies te bepaal wat befondsing ontvang, en die feeste moet in konsultasie wees met mekaar om dit te kan doen. Die Feesteforum is ook ’n wonderlike platform vir feeste om op groter skaal ander kwessies te bespreek wat die bedryf raak en hulle as individuele feeste raak. Die feeste doen ongelooflike werk om die bedryf aan die gang te hou in die aangesig van geweldig groot uitdagings en dit is pure plesier om met hulle saam te werk. Die grootste uitdaging is weliswaar om teater te maak wat aan gehore genot verskaf, maar ook moeilike en uitdagende werk te skep wat die kunstelandskap verbreed.

Uitdagings is maar altyd geld – of eerder die gebrek daaraan. Ons werk egter baie hard saam met ander instellings soos die Baxter- en die Atterbury-teater, en binnekort ook Artscape en die Markteater, om die werk wat deur ons en die feeste geskep word, ’n groter platform te gee. Gehore, en veral Afrikaanse gehore, is honger vir goeie teater. ’n Ander uitdaging bly maar om ons aanbod so verteenwoordigend as moontlik te maak van die totale teaterlandskap. Nie alle werk vind byval by alle gehore nie, maar dit bly steeds belangrik dat die werk gedoen en befonds word. En dan bly die ontwikkeling van nuwe tekste ook altyd ’n prioriteit – hiervoor het mens wel tyd en kundigheid nodig. Die Teksmark speel ’n geweldig belangrike rol in die proses, want skrywers kry broodnodige terugvoer en befondsing om hulle tekste tot hul reg te laat kom.

Met jou aanstelling as hoof uitvoerende beampte van NATi het Tim Du Plessis, as voorsitter van NATi se direksie, in ’n verklaring gesê dat jou “uitgebreide ervaring en kennis van die uitvoerende kunste” ’n sterk indruk op hom (en die direksie) gemaak het. Waar kom jou passie vir teater, en spesifiek Afrikaanse teater, vandaan?

My passie vir teater kom spesifiek van die feit dat ek as jong kind aan teater blootgestel is deur my ouers. Vandat ek kan onthou, wou ek in die uitvoerende kunste betrokke wees – behalwe my kort fase toe ek president van die land wou word – en nou is ek op ’n ander vlak by “politiek” betrokke. Die totale ervaring van uitsien na ’n produksie, aantrek vir die geleentheid, die voorportaal van die teater, die kostuums, die beligting, die musiek, die klanke, die deel vorm van ’n gehoor en dus ook ’n klein gemeenskap vir die duur van die produksie – het nog altyd my verbeelding aangegryp. Teater is enig in sy soort in terme van die onmiddellikheid van die medium en die ervaring. Dit laat ’n empatie en meelewing in ’n gehoorlid ontwaak wat geen ander kunsvorm kan doen nie. Ons het teater ongelooflik nodig in die wêreld en in die land.

Teater dwing mense om met ander mense se stories om te gaan en daarmee gekonfronteer te word. Dit is noodsaaklik vir ons as ’n nasie, want ons het die vermoë verloor om empaties met ander om te gaan.

My passie vir Afrikaanse teater kom ook vanuit die posisie dat ons as Afrikaanse kunstenaars baie het om te sê en by te dra tot die huidige diskoers in die land (veral oor Afrikaans). Ons is ’n diverse, omarmende gemeenskap wat Afrikaans wil gebruik om ’n positiewe narratief tot die Suid-Afrikaanse diskoers toe te voeg. Ons wil nie verkramp en uitsluitend wees nie. Ons wil met alle Suid-Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe saamwerk, want só bou ons ’n nuwe narratief. Afrikaans kan en moet ’n positiewe rol speel in die land en nie ’n narratief voed wat op enige vlak die taal van eksklusiwiteit en uitsluiting praat nie. Teater is ’n wonderlike medium in dié opsig, want dit laat so baie ruimte vir kreatiwiteit en gewaagdheid.

Watter produksies wat NATi ondersteun is by die Suidoosterfees te sien?

Produksies te sien by die Suidoosterfees is Rokkie deur Denver Breda, Irrasioneel deur Des-Lee McKenzie, Fluit-fluit deur Myles Roberts en ook die Jong Sterre-projek.

Cornelia, watter rol voel jy speel kunstefeeste, soos die Suidoosterfees, in die bevordering van die Afrikaanse uitvoerende kunste?

Die Suidoosterfees is ’n naatlose fees wat mense en genres aanbetref. Dit skep ’n beeld van hoe die Afrikaanse kultuurgemeenskap en taalgemeenskap kan lyk. Afrikaans moet bevry wees van standaarde en vooropgestelde idees oor hoe wie moet klink wanneer ons dit praat. Ons enigste maatstaf moet gehalte wees. Die Suidoosterfees is ’n ongelooflike fees wat mense verenig omdat ons vir ’n paar dae gedeelde ervarings beleef wat ons dwing om minder in ons eie dampkringe te beweeg.

Wat is jou mening oor die toekoms van Afrikaans in Suid-Afrika?

Dis ’n moeilike vraag, want ek word dikwels daarvan beskuldig dat ek te optimisties is oor Afrikaans. Ek verstaan daar is omgewings (soos die skoolomgewing) waarvan ek nie ’n kenner is nie. Ek het wel lank by ’n universiteit gewerk waar die taalstryd wild gevoer is – ek is nie oortuig dat Afrikaans se heil op tersiêre vlak lê of dat dit so belangrik is nie. Universiteite is sleutelpunte en die stryd om taal verteenwoordig ’n baie diep stryd oor ongelykheid en toegang in die land.

Afrikaans se heil lê in die kreatiewe omgewings, en teater is ’n sleutelvennoot. As jy by die pas afgelope Woordfees of KKNK was, sal jy my moeilik oortuig dat Afrikaans se toekoms benoud is. Dit is baie lewendig en divers en takel geweldig moeilike onderwerpe. Daar is beeldskone tekste en jong skrywers wat woeker met die taal en dit omvorm tot ’n nuwe Afrikaans wat anders klink en vernuwend is. Daar is ’n jonger geslag Afrikaanssprekendes wat heeltemal anders dink oor die taal – wat dit soos klei hanteer en nuwe paradigmas en narratiewe skep. Afrikaanse teater is in ’n verskriklik opwindende fase (ek kan vir jou lyste en lyste gee van jong skrywers wat ’n Afrikaans praat en skryf wat superopwindend is: Amee Lekas, Philip Rademeyer, Denver Breda, Chase Rhys, Enrico Hartzenberg, Nico Scheepers, Wessel Pretorius, Amy Jephta, Des-Lee McKenzie, Retief Scholtz, Bibi Slippers, De Klerk Oelofse, Jason Jacobs, die ouens van Theatre Rocket, die geselskap van NRNNSA, die jong teatermakers van The Loft Puppet Company, Herschelle Benjamin, Du Toit Albertze, Llandi Beeslaar – die lys hou net aan en aan (jammer as ek enige iemand uitlaat – hierdie name is sommer net dié aan wie ek onmiddellik kan dink). Kom kyk bietjie teater en dan sal julle sien waarvan ek praat. Ons is besig om iets te skep wat in diens staan van ’n baie groter Suid-Afrikaanse prentjie, en Afrikaans is ’n spilpunt hiervan.

Wat sou jy sê om mense aan te moedig om die teater te ondersteun, Cornelia?

Teater verryk jou en dit maak jou meer mens. En ons werk ons dood om goeie teater te skep vir gehore – al wat ons nodig het, is dat mense kaartjies koop. Vir almal wat paniekerig is oor Afrikaans, los jou paniek by die huis en kom ervaar hoe lewendig Afrikaans is. Ons is ’n jonger geslag wat wil teater pleeg in Afrikaans. Maar nie die Afrikaans wat wil veg vir ou onregte nie. Die Afrikaans wat in diens wil staan van die land.

Mense wat sê hulle veg vir Afrikaans se behoud, maar nie bereid is om hulle geld te spandeer aan goeie Afrikaanse kultuur (teater, musiek en boeke) nie, veg vir ou onregte. As jy werklik omgee vir Afrikaans en die rol wat Afrikaans in hierdie land kan speel as ’n versoenende en bydraende krag, dan moet jy jou geld belê in areas waar daar werklik nuwe en opwindende dinge gebeur. Om op sosiale media gal te braak oor “hulle” wat “ons” taal wil vernietig, is omtrent die mees sinlose aksie wat daar is. Kom kyk ’n bietjie hoe lewendig en gesond Afrikaans in die teater is. Jy mag dalk jouself verbaas met dit wat jy kan leer.

Laastens, wat hou die res van die jaar in vir NATi?

Werk, werk, werk. Ons hou nooit op praat met rolspelers, teaters en feesmense nie – ons werk daagliks aan planne, skedules, begrotings, toekomsgesprekke en dies meer. Ons moet in pas bly met wat die bedryf, en veral feeste, nodig het. Die feeshoofde is ons belangrikste kurators in die land en dit is belangrik om hul behoeftes te bepaal en te dien.