SKRYWERSNOTA

Dit maak my opgewonde om terug te kyk en te besef Die dans van die watermeid het eintlik sedert 2016 se Teksmark van die grond af ontwikkel. Eintlik het ons albei saamgegroei. Ek sal seker nog vir jare verstom staan en terugdink oor hoeveel toegang ek kon hê tot ’n meester in hierdie bedryf, Saartjie Botha, as my mentor. Sy het nie net my geraadpleeg om hierdie storie van my en my mense opreg te vertel nie, maar sy het my bly aanmoedig  om my stem as nuwe skrywer in hierdie bedryf te vestig.

Die ontwerp van dié skrywersprogram laat nie net dit toe nie, maar maak dit ook moontlik om die teks in verskillende stadiums te ontwikkel. Dit maak voorsiening om die behoeftes van die skrywer te probeer bevredig. Na my mening sal die volgende skrywer heel ander behoeftes hê, maar dit is opwindend om te dink dat die ontwerp buigsaam genoeg is om weereens die koers van die volgende teks in sy regmatige rigting te stuur.

Ek dink wat my sal bybly is dat ek die kans gekry het om sedert Kunste Onbeperk se Teksmark in gesprekke met ander skrywers te kon wees. Om ons denke te kon uitruil en ook ons voorgestelde werke op potensiële ontwikkelaars in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf te kon uittoets. Ek kon wegstap met die nodige inligting wat die bedryf nodig het asook die visie waarna dit strewe en hoe ek daarin pas. Hierdie was net ’n opvolg vir Die dans van die watermeid. My finale produk is met die produksiespan bespreek, dit sluit in regisseurs, vervaardigers, verhoogontwerper tot die akteurs.

’n Jaar klink lank om te skryf, maar ek dink dit is wat ek as nuwe skrywer nodig gehad het. Ek kan nou met vertroue my voetspore in Willowmore herroep, maar ook my volgende projek met die nodige vaardighede aanpak. Dit is vir my belangrik om te noem dat ek ’n kunstenaar in nood was. Teater is wie ek is om baie redes. Dit is my passie, maar ook my manier om verandering te probeer bring rondom sosiale kwessies. Ek moes iets doen sodat iemand my raaksien en ’n geleentheid vir my bied. Ek skaam my as’t ware dat ek eers hulpeloos moes voel om ander se seer te herken.

Willowmore is ’n plattelandse dorp waar hierdie storie afspeel en ook waar ek grootgeword het. Die absolute eenvoud is vir my mooi en rustigheid nog meer, maar ons almal is tog net mens. Dit was vir my hartseer om te besef dat kinders probleme soos verkragting moet trotseer en met hierdie soort onderdrukking grootmense word. Niemand het na hulle geluister nie en die wat weet, was te bang om iets daaraan te doen. Ek voel nogsteeds magteloos oor hierdie kwessies wat Die dans van die watermeid aanspreek, en daarom het ek seker so ’n titel vir hierdie storie gegee.

Ek wil glo soos iemand na my geluister het en oplossings vir my gebied het, dat drie kinders begin hoop op iets so ontwerklik soos om hulle te kom red, eendag ’n einde sal bring aan iets wat soveel nagevolge het. Dit spook by my, want ons as Suid-Afrikaners word so gestroop van ons menslikheid. Ons lees, hoor en praat hieroor asof niks verkeerd is nie. Eintlik is ons stadig besig om half dierlik te word, soos die watermeid.

AMEE LUKAS


ROLVERDELING
Rehane Abrahams
Rehane Abrahams

Kim

Rehane Abrahams is ’n bekroonde aktrise en medestigter van The Mothertongue Project, wat met behulp van teater daarop fokus om vroue en jongmense op te hef. Rehane is betrokke by ’n groep tienermeisies van Ocean View en Masiphumelele om plek-spesifieke opvoerings in die berge, oseane en strate van die omgewing te skep.

Elton Landrew
Elton Landrew

Karel Natneus

Elton Landrew het in 1995 sy dramadiploma aan die Waterfront-teaterskool in Kaapstad verwerf. Sy loopbaan het in 1998 afgeskop met David Kramer en Taliep Petersen se bekroonde musiekblyspel Kat and the Kings en hy het vir die volgende vier jaar deur Europa getoer. Elton was later ook betrokke by heelwat produksies van die Markteater in Johannesburg, waarvan Boesman en Lena een van die hoogstepunte was.

 Gretchen Ramsden
Gretchen Ramsden

Evie

Gretchen Ramsden is ’n aktrise, danser, skrywer en sanger en is tans besig met haar finalejaar in teaterstudies aan die Universiteit van Kaapstad. In 2016 het Gretchen die rol van Harry in Philip Rademeyer se Portret, onder regie van Amy Jephta, vertolk.

Abduraghmaan Adams
Abduraghmaan Adams

Dominee

Abduraghmaan (Abdu) Adams het sy BDram-honneursgraad cum laude aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy is al drie keer vir die gesogte Fleur du Cap-teatertoekennings benoem. In 2017 het hy ’n Safta-toekenning as beste ondersteunende akteur ontvang vir sy rol in die trefferfliek, Noem my skollie.

Ephraim Gordon
Ephraim Gordon

Mills

Ephraim Gordon het in 2009 die Brett Goldin Memorial Trophy ontvang, vir die belowendste finalejaarstudent in die dramadepartement van die Universiteit van Kaapstad. In 2013 was Ephraim te sien in die wêreldpremière van Athol Fugard se eerste Afrikaanse toneelstuk, Die laaste karretjiegraf, en hy het ook ’n rol gespeel in die musiekblyspel, Blood Brothers, met David Kramer as die regisseur.

 Celeste Matthews-Wannenbürgh
Celeste Matthews-Wannenbürgh

Ouma Mildred

Celeste Matthews-Wannenbürgh is ’n bekroonde veteraan-aktrise wat bekend is vir haar spel op die verhoog, sowel as televisie – plaaslik en internasionaal. In 1999 is Celeste met ’n Fleur du Cap-toekenning vir haar rol as Sophia in Suip! bekroon, en sy het ook ’n FNB-benoeming vir dieselfde rol ontvang.

“In die wêreld is ‘n paar mense wat gerieflikheidshalwe vergeet waar vandaan hulle kom. Hulle is so besig om hulle spore agter hulle skoon te vee dat dié wat nog sukkel om by te kom, nie ‘n kat se kans staan vir vorentoe nie.  So verskoon my as ek gebruik maak van wat ek het. Elk geval, Karel Natneus is van Willowmore, asvaal Willowmore, net soos ek en jy.”

Amee Lekas

REGISSEUR
Jason Jacobs

STEL- EN KOSTUUMONTWERP
Birrie le Roux

BELIGTINGSONTWERP
Patrick Curtis

KLANKONTWERP
Pierre-Henri Wicomb

VEGCHOREOGRAFIE
Stunteam
Matthew van Leeve
Chad Smith

STELBOUERS
Brian September
Wayne Jacobs
Chris Spogter

TEKSMENTOR
Saartjie Botha

CHOREOGRAAF
Deidre Jantjies

REGISSEURSMENTOR
Lara Foot

VERVAARDIGERS
Cornelia Faasen
Hugo Theart
Nicolette Moses

VERHOOGBESTUURDER
Marisa Steenkamp

PRODUKSIE-ASSISTENT
Enrico Hartzenberg

Amee Lekas

Amee Lekas is ’n 27-jarige kunstenaar van Willowmore in die Groot Karoo. In 2014 verwerf sy haar dramagraad in toneel en fisieke teater aan die Universiteit van Stellenbosch en verhuis kort na die voltooiing van haar studies na Bloemfontein. Hier tree Amee vir die eerste keer as ‘n professionele aktrise op in Adjusted, vertolk die hoofrol in Blood Wedding en speel in ander produksies soos Three Little Bitches. Sy is die skrywer van Not My Circus, ’n produksie waarvan sy ook die regie behartig het.

Jason Jacobs

Jason Jacobs is ’n 25-jarige teatermaker, skrywer en akteur, oorspronklik van Kharkams in die Noord-Kaap. Hy is vanjaar met Kunste Onbeperk se Nuwe Stem-prys vereer, en het in 2016 die Theatre Arts Admin Collective-beurs vir jong opkomende teaterregisseurs ontvang vir sy teks, In wag van. Ná sy sukses by The Magnet Early Years Theatre Company, word Jason aangestel as hooffasiliteerder by die Mothertongue Youth Arts Project in McGregor en Robertson. Jacobs werk tans as dialoogafrigter by Suidooster (kykNET) en is die kreatiewe hoof van KleiSand Productions. As regisseur en skrywer was hy ook verantwoordelik vir produksies soos Kalahari Swan en Stof rooi.

Patrick Curtis

Patrick Curtis se teaterloopbaan as ’n produksiebestuurder en stel- en beligtingsontwerper strek oor langer as drie dekades. Hy was verantwoordelik vir die stel- en beligtingsontwerp van Karoo Moose (2007), asook die beligtingsontwerp van toneelstukke soos Cissie (2008), Woyzeck (2010) en Purgatorio (2011), en die stelontwerp vir Solomon and Marion (2011), Mies Julie (2012) en Doodsnikke (2012). Patrick het Fleur du Cap-toekennings vir die stelontwerp van Uncle Vanya/Oom Wanja (2004), Betrayal (2006) en Fishers of Hope (2015) ontvang. Hy is ook in 2016 met ’n Naledi-toekenning vir die stelontwerp van Fishers of Hope bekroon.

Birrie LeRoux

Birrie le Roux is ’n bekende kostuumontwerper wat talle toekennings vir haar werk in die teater en films ontvang het. Sy is ook die afgelope twee jaar die kostuumontwerper vir die Fugard-teater. In 2016 is Birrie met die Fleur du Cap-toekenning vir beste kostuumontwerp vir David Kramer se musiekblyspel, Orpheus in Africa, bekroon. In dieselfde jaar het sy die Silwerskerm-toekenning vir die produksie-ontwerp van die film, Johnny is nie dood nie, ontvang. Sy was ook onlangs die kostuumontwerper van onder meer District Six Kanala, Clybourne Park, Die huis van Bernarda Alba, Die seemeeu en Marat Sade.

Marisa Steenkamp

Marisa Steenkamp het haar honneursgraad in drama aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, waarna sy vir ’n jaar by die universiteit as ’n junior lektor en assistent-teatertegnikus gewerk het. Sy het daarna as ’n vryskut-tegnikus/verhoogbestuurder by verskeie teaters en instansies, onder andere Spier-amfiteater, Oude Libertas-amfiteater, Baxter-teater en Kaapstad Opera, gewerk. Gedurende hierdie tyd het sy met verskeie produksies nasionaal en internasionaal getoer – dit sluit in toere na Engeland, Frankryk, Duitsland, Swede en Columbia. Marisa is die afgelope vyf jaar die adjunk-verhoogproduksiebestuurder by die Baxter-teater.