Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa

Ondersteun deur NATi

Teks: Chris Barnard
Regie: Albert Maritz
Spelers: Sandra Prinsloo, Waldemar Schultz en Wilhelm van der Walt

Org Verwey (Waldemar Schultz) is 45 en bly nog by sy ma (Sandra Prinsloo) in ’n armsalige, beknopte huis in ’n industriële gebied. Tussen die fabrieksgeraas, sy ma se demensie en geneigdheid om hom soos ’n kind te behandel en die lekkende dak kom die gehoor op die disfunksionele omstandighede af wat hierdie skitterende drama tot gevolg het.

Org kry sy hele lewe lank nie ’n telegram nie, maar op dié gegewe dag ontvang hy twee: ’n eerste wat sê dat hy en sy ma die aand ’n besoeker gaan kry, en ’n tweede om te bevestig dat die besoeker om 19:30 kom. Albei geadresseer aan Org Verwey – en ook gestuur deur Org Verwey. Wat volg, is die afwagting op die koms van die misterieuse besoeker wat op soek is na sy erfporsie, en die Babelse verwarring wat Org en sy ma se dialoog kenmerk.

Die drama herinner aan die bekende Waiting for Godot deur Samuel Beckett, want alhoewel die besoeker (ook genaamd Org Verwey, gespeel deur Wilhelm van der Walt) tog opdaag en daar konflik is, voel die kyker steeds ongemaklik en asof hy of sy ’n onopgeloste situasie aanskou. Soos wanneer jy vir ’n gewaarwording wag wat nooit kom nie. Selfs wanneer die besoeker dit bekend maak dat hy Org senior se seun is, kry die kyker ’n ongemaklike gevoel dat die situasie wat uitgebeeld word, nie slegs die verhaal is van ’n kind wat sonder ’n pa moes grootword nie. Dit gaan oor iets groter.

Die drama is propvol simboliek. Org se ma, in haar toestand van demensie, praat met en oor haar 45-jarige seun asof hy nog ’n kind is. Dit dra by tot die komplekse ma-seun-verhouding en Org se frustrasie met die feit dat hy nog nie klaar studeer het, ’n bevordering by die werk kon kry of sy eie huis kon bou nie.

Sy ma het ’n olielamp, wat ’n sentrale rekwisiet is. ’n Man het haar eenmaal gered toe sy van ’n brug wou afspring, en hy het gesê sy moet altyd ’n lamp by haar hou, sodat sy nooit weer sal teruggaan na daardie donker plek nie. Telkens hou sy haar olielamp of breiwerk op haar skoot, soos ’n babatjie, en die breiwerk herinner aan Psalm 139:13: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.” Haar breiwerk is na jare steeds nie voltooi nie, nes Org se ontwikkeling tot selfstandige man. Sandra Prinsloo se spel was, soos altyd, in ’n ander klas. Selfs toe sy aan die einde van die vertoning “leweloos” op ’n lessenaar gelê het, kon ek nie my oë van haar af hou nie.

Die seun daag op met ’n tas, en as jy Org se reaksie op die tas en vrees vir die inhoud daarvan in ag neem, kan daar ook gemeen word dat die tas Org se onderbewussyn verteenwoordig – die konfronterende deel van sy self wat hom aan die waarheid blootstel. Soos die seun ook tereg opmerk: “Dit is nie my stem nie; dis ons almal s’n.” Ons het almal die stem wat ons herinner aan ongemaklike goed wat ons eerder sou wou vermy.

Die verhouding tussen die pa en seun is kompleks. Op letterlike vlak is die bewering dat Org die man se pa is, baie geloofwaardig. Dit is egter op simboliese vlak ewe geloofwaardig dat die seun die stem van rede verteenwoordig. As mens agter hulle dialoog en toneelspel inklim, is daar ’n ander boodskap wat na vore kom: ’n boodskap van die geroetineerde bestaan van die hedendaagse volwassene, wat presies weet hoeveel treë hy elke dag na sy kantoor stap, en by hoeveel skoorstene hy verbystap. Van leë alledaagse gesprekke. Van ’n kind wat sonder ouers grootword, omdat hulle te besig is om ’n vlieër te maak en saam met hulle kind park toe te gaan. Van iemand wat nog eendag wil trou en kinders wil hê en ’n huis wil bou en plekke soos Barcelona wil sien, maar nooit so ver kom nie. Van ouers wat sukkel om hul kinders uit die nes te skop. Van verantwoordelikheid. Van verskonings maak. Van ontkenning.

Die vertoning het my herinner aan die waarheid wat in my steek en wat ek dikwels ontken. In ’n tyd waar almal vasgevang is in hul roetine en leë gesprekke, is dit soms nodig om stil te staan en te besef dat ons wêreld nie op die uithoeke van ons dorp eindig nie.