KLEEDKAMER BLUES

’n Innibos produksie ondersteun deur NATi

Met De Klerk Oelofse, Wessel Pretorius, Greta Pietersen, Ludwig Binge en Carel Trichardt

Teks: Ludwig Binge

Regisseur en stelontwerp: Marthinus Basson

Vervaardiger en beligting: Chris Pienaar

ʼn Wyse man het eenmaal gesê: “The Blues ain’t nothin’ but a good man feelin’ bad.” ’n Kleedkamer voor die vertoning van ’n laaste optrede by ’n kunstefees. Almal bietjie moeg, almal bietjie feesvoos… Diep-seun Johan ly aan premature post-production blues, want hy sê nie ʼn woord nie. André is knorrig omdat sy vriend en mede-akteur, Hendrik, nooit sy eenmanstuk kom kyk het nie. Hendrik is pas genomineer vir ʼn toekenning, terwyl André se stuk pas ʼn louwarm resensie gekry het. Dit grief hom. Hendrik het Wena op die brein en vanaand is die aand dat hy sy liefde aan sy mede-akteur gaan verklaar, want hy kan nie anders nie. Wena is gatvol vir die tekort aan finansiële sekuriteit en boonop knou verhoogangs haar. Na die fees gaan sy ʼn sepie-rol in Johannesburg aanvaar. En Hendrik is van Kaapstad. Die ou veteraan, Paul, wat na 15 jaar ʼn comeback maak in hierdie alternatiewe weergawe van Beckett se Godot, ondersteun haar in haar besluit, maar sukkel self om sy woorde te onthou en blameer die ouderdom. So die nerwe is dun geskuur. Boonop kom ʼn belangrike gas vanaand na die stuk kyk vir oorweging vir ʼn speelvak in die buiteland. Kan hierdie kwesbare siele hulle verskille opsy sit en vir oulaas ʼn briljante vertoning op die planke bring? Sal hulle die Kleedkamer Blues kan oorwin? ʼn Kykie agter die skerms. Innibos se vlagskipproduksie. Moet dit nie misloop nie…