Dit is meer as vyf maande sedert diegene in die vermaaklikheidssektor se werk opgedroog het, weens die staat van nasionale inperking aangekondig deur President Cyril Ramaphosa. Teaters, musiek-en danskonserte, sowel as ander lewendige opvoerings is summier gestaak, en kunstenaars, tegnici en skoonmakers is hierdeur sonder inkomste gelaat. Die veldtog #LightSAred is deur Sharif Baker gestig om bewusmaking hierrondom te skep. 

Die veldtog, #LightSAred is geloots om bewusmaking te skep vir diegene wat in die uitvoerende kunste sektor is. Die algemene gevoel onder mense in dié veld is dat die regering nie die kunsbedryf prioritiseer nie. Sodoende is daar nie veel hulp vir ’n bedryf wat noodsaaklik is vir ontspanning, ontvlugting en vermaak nie. Die veteraanjoernalis Martie Meiring het op ’n kol, pas na die US Woordfees, geskryf dat kunstefeeste die temperatuur van die land meet. As ons die huidige klimaat in ag moet neem, is dit veilig om te sê dat die kunsbedryf in die rooi is. Rooi van woede, kwaad en hulpeloosheid. Ons skuld is ook in die rooi. Met die dat die bedryf toegemaak is, en die nuutste inperkingsregulasies stipuleer dat vertonings of groepbyeenkomste ’n maksimum van 50 mense mag bevat, gaan die rooi vinnig verander na ’n donker rooi. Rooi so rooi dit lyk byna swart. 

Die groep #LightSARed het eise aan die regering gestel. Die eise is as volg: 

  • Die regering en finansiële instellings moet finansiële verligting vir diegene wat ‘n inkomste verdien in die industrie vir tegniese produksie en live events verskaf totdat ons toegelaat word om weer te begin werk
  • Die regering moet skakel met verkose leiers binne SACIA (Southern African Communications Industries Association) en die SA Events Council, en ’n platform bied waarop stemme gehoor kan word.
  • Ons eis dat die regering die organisasies wat tans geen wins maak erken en daarmee saam ondersteuning bied aan behoeftige lede van die tegniese produksie- en live events-industrie

Die woordvoerder van die beweging, Baker, het aan EWN gesê: “It’s a campaign to gain attention of government. We’ve gone with Light SA red, because red is the international colour for emergencies, and that’s what the entertainment industry is in.”

Talle teaters, insluitend die Adam Small Teaterkompleks op Stellenbosch het ingespring om bewusmaking te skep. 

Tafelberg, en ander teaters in Kaapstad was ook in rooi gedompel. Kunstenaars het op hul sosiale media ook die tendens gevolg. 

Dit is van kardinale belang dat die regering ag slaan op die eise van #LightSAred. Ek is ten volle daarvan bewus dat korrupsie, hongersnood en geweld tans hoog op die nasionale agenda is. Waarom is daar ’n departement virKuns en Kultuursake as basiese behoeftes nie nagekom kan word nie? As jong Suid-Afrikaanse teatermaker voel ek nie optimisties oor die regering se vermoë om te prioritiseer nie. Hierdie gevoel word geëggo dwarsoor sosiale media en blitsig sien ons hoe Ramaphorie besig is om te kwyn. Daar is ongelukkig geen maklike oplossing. 

Minister Nathi Mthethwa se kantoor het wel berig dat daar ’n tweede rondte van noodfondse vir kunstenaars beskikbaar gestel is. Kunstenaars het tot 31 September om aansoeke hiervoor in te dien.


Vir meer inligting, gaan na https://www.lightsared.org.za/ en vind uit hoe jy kan help. Besoek ook http://www.dac.gov.za/ om aansoek te doen vir die noodfonds.