Talle mense is besig om dood te gaan, ons land se ekonomie lê aan skerwe, daar is mense wat meen armoede gaan hulle bykom nog voordat die virus sy tol op hul lewe kan eis en in ’n oogknip is ons vryheid van ons ontneem. 

Dit het vir my gevoel asof 2020 die jaar sou wees waar menigte aktiwiteite op my sogenaamde “bucket list” tot uitvoering sou kom. Soos wat ek van die memes op sosiale media dopgehou het, blyk dit asof 2020 ’n universele gevoel van bemagtiging en gereedheid teweeggebring het. Dis seker te danke aan die aanbreek van ’n nuwe dekade – die nuwe “roaring twenties”.  Van die dinge wat ek van my lysie wou afmerk is om my meesterstesis te voltooi (ek kom darem nog daarby uit!), ek wou graag na elke kunstefees in die land toe gaan as ’n regisseur of ’n gehoorlid by party van hulle, en ek wou bitter graag begin reis. Party van my vriende en kennisse het ook grootskaalse planne gehad vir hoe 2020 as ’n jaar van geleenthede en ervaringe aangepak sou word. Min het ons geweet dat die uitbreek van COVID-19 gaan veroorsaak dat ons vir ’n wyle Jan Tuisbly se karretjie sou ry. 

Vir ons wat in die besigheid van kunstefeeste handel dryf, het die nuus rondom die koronavirus ons gedurende vanjaar se Toyota US Woordfees getref. Ons was kniediep in die aksie van vertonings doen, bywoon, gesellig wees oor ’n glas of ’n paar bottels wyn en toe is dit asof die ligte in ons gesigte afgesit word. Dit was byna al waaroor almal kon praat. Dit was byna al waaroor almal gewonder het. En toe kom die groot vraag: wat nou? 

Wat gaan van ons word? Wat van die produksies wat ons na ander feeste toe wou neem? Waar gaan ek werk kry? Hoe gaan ek my huur betaal? Soveel onbeantwoorde vrae. En dis menslik om angstig hieroor te raak. Daar is wel ook ’n mate van kameraderie in hierdie angs. Ons is nie alleen nie. 

Soos wat Etienne Leroux ons herinner in Sewe dae by die Silbersteins (met apologie): 

“Ons is nie alleen nie,” sê Jock Silberstein. “Ons besef aldag meer ons gesamentlike aandeel in die lot van die mensheid. Die eensaamheid is die verlange, die pyn by aanskouing van die valse beeld van die enkeling wat stuksgewys met ons nuwe insig verdwyn.” 

Wat is ons aandeel in die lot van die mensheid? Wat kan ons as kunstenaars doen om die eensaamheid wat so universeel kom raak het, bietjie te verlig? Dis glad nie ’n nuwe insig dat die wêreld in tye van krisis na kunstenaars draai nie. Hetsy die redes vermaaklikheid of ontvlugting is, is dit ’n aangename gevoel om te weet “Yes! Ek is nodig”. 

Huiskonserte, voorlesings, Zoom-saamsingsessies, die kyk van ou flieks of reekse. Ons is nodig.  Ek is ’n groot voorstander van besig bly. Ek wil my vakmanskap gedurig gepolitoer en aan die beweeg hou. Dit is egter nie nodig dat ons by die massas nou enige kuns hoef te vervaardig nie. Talle kort tyd en ruimte vir die eb en vloei om sy ding te doen. En dis ook okei. 

Die punt wat ek hier probeer maak is dat ons met geruste harte kan weet dat ons ’n verskil in mense se lewens maak. En die koronavirus sal nie die kunste in die kiem laat smoor nie. Ons is deel van ’n makrokosmos wat nou swaar trek aan sewentig maal sewe sakke sout. Maar, ons is hier. Ons is nodig.