Sedert die nasionale inperking in Maart vanjaar aangekondig is, is menigte landsburgers se lewe onherroeplik verander. Dit is natuurlik nie nuwe nuus nie. Verskoon die dramatiese sienswyse, maar dit wat ons voorgehou het as ‘normaal’ is omgedop en blitsig moes ons aan nuwe sosiale gedrag gewoond raak. Die inperking het ons tot stilstand gebring en die tyd voor die Koronavirus, voel soos ’n vae verlede.

Kunstenaars, nes ander beroepe, is gedwing om buite die boks te dink. ‘n Silwerrandjie was dat daar talle noodfondse vir kunstenaars opgeduik het, maar dié optimisme het spoedig verdwyn toe die fondse nie meer vrylik beskikbaar was nie. Is sommige van ons van die gelukkiges wat nog kon uitsien na ’n ekstra randjie hier of daar? Natuurlik. Ander, vir wie dit kon lyk asof hongersnood en armoede hulle gaan bykom voor die virus sy tol op hul lewe kon eis, was aan die diepe donker kant ingegooi. Ek wil nie met ’n wit brood onder die arm kla nie, maar toe President Cyril Ramaphosa aanvanklik in sy toespraak aan landsburgers biljoene hier en daar vir sekere afdelings belowe het, het ek hom geglo. Menigte so naïef en ongeskond soos ek, het hom geglo. 

Nou dat die spreekwoordelike skille van ons oë afval, aan wie se deur kan ons gaan klop? Dit voel onregverdig om te verwag dat kunstenaars sukkel-sukkel ‘n bestaan moet maak, want ‘Ag, julle is die kreatiewes! Kom op met iets! Maak ons lag in hierdie donker tye!’. Dit is nie genoeg nie. Van lag en ontvlugting alleen kan ons nie lewe nie. 

Netwerk24 berig vroëer in Maart dat die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, op 25 Maart ’n noodfonds van R150 miljoen rand vir kunstenaars en sportlui geaffekteer deur COVID-19 aangekondig het. Die fonds was gemik op diegene wat weens die pandemie sonder werk gesit het. Die DA het hierdie stap egter bevraagteken as gevolg van die kort kennisgewing om aansoek te doen, sowel as die manier waarop die aansoekproses sou uitspeel. Die kriteria was onduidelik, volgens die DA-LP Veronica van Dyk.

Op 4 Mei word daar vanuit Minister Mthethwa se kantoor berig dat ’n gedeelte van die noodfonds oopgestel was vir aansoeke vir virtuele kreatiewe projekte of sportaanbiedinge. Na die sperdatum van 6 April 2020 word berig dat 5000 aansoeke vanuit die kunste en 300 vanuit die sportwêreld ontvang is. 1050 van hierdie aansoek is in dispuut gebring. Die maksimum hoeveelheid geld wat na ’n aanbieding sou gaan, is R20 000 om te verseker dat so veel as moontlik mense voordeel kon trek. 

Ek het begrip vir die beweegrede dat kunstenaars werk moet verskaf om in aanmerking vir die noodfondse te kom. Daar is wel mense wat nie in ’n oogwink ’n projek kan uitdink of in kort kennisgewing ’n produk van goeie gehalte die lig kan laat sien nie. Daar is mense in ons bedryf wat misgekyk word deur die regering. Die kunste word aan hul eie genade oorgelaat, want soveel soos wat daar waardering is vir verskillende vorme van kuns, hetsy teater of televisie of visuele kuns, bestaan daar nie ’n daadwerklike plan van die regering se kant af om te verseker dat kunstenaars op die einde van die dag nie hand tot mond hoef te leef nie. 

Kom ons dink oplossinggedrewe… wat moet of kan gebeur? Eerstens glo ek vas dat ons ’n minister van kuns en kultuur in die parlement kort. Een wat fokus slegs op kuns en kultuur, en nie sport en ontspanning en wat ook al nog nie. En dan moet daar seker gemaak word daar is sinergie tussen verskillende kuns departemente, eerstens in die provinsie, en dan tweedens in die land. Met korrupsie en geweld wat tans hoogty vier, voel dit ver en onprakties om op hierdie manier aan ’n oplossing te dink. Kuns en kultuur het ’n behoefte aan individuele aandag sodat kwesbare mense en gemeenskappe die hulp kry wat hulle toekom. 

Vir nou kan ons net aanhou om vir mekaar uit te kyk. Geleenthede te deel, werk vir mekaar te skep en seker te maak ons medekunstenaar bly aan die lewe. Hierdie pandemie weeg swaar op die hart. En terwyl ons nasionale regering bekgevegte hou en mekaar se beursies volstop, moet ons seker maak dat nie een van ons te swaar trek nie. Dis moeilik, dit was al moeiliker en dit gaan vir ’n etlike aantal maande nog moeilik wees. 

’n Titseltjie goeie nuus is dat sekere produksiemaatskappy weer begin werk het, die kameras rol, virtuele teaterervaringe is aan die gebeur en die ink vloei weer. Hopelik duik daar nog noodfondse op en bereik dit diegene wat werklik sukkel. Vir nou maak seker jy dra jou masker, was jou hande, bly in jou huis en dink groot asseblief saam met my aan idees vir hoe ons die regering se aandag kan kry.