Via Netwerk24

Die leuens wat mense mekaar vertel, die skyn wat voorgehou word dat als reg is en in plek is, als voorspoed en geluk, kom in die drama Katvoet van die regisseur Nico Scheepers onder die aandag.

Dit is ’n splinternuwe Afrikaanse verwerking van die Amerikaanse dramaturg Tennessee Williams se familiedrama Cat on a Hot Tin Roof, wat hier op die US Woordfees op Stellenbosch debuteer en vandaar die kunstefeeste gaan aandoen. Scheepers het die verwerking en regie gedoen asook die stelontwerp.

’n Mens voel dadelik die bedompigheid aan in die lug op die wildplaas in Limpopo. Die benoudheid word toenemend sielkundig drukkend. 

Die Mouton-gesin vergader vir die patriarg Piet (Marius Weyers) se 65ste verjaarsdagvieringe. Daar is ’n reusekoek en vrolike T-hemde is laat maak. Selfs vuurwerke word afgevuur. 

Oordadig vrolike gebare as ’n mens sien hoe werk die spulletjie eintlik met mekaar. Dit kyf en skel aanhoudend onderling hoewel daar skynheilig om Moeksie en pa Piet gekloek word. Gemoedelikheid en waardering is daar nie, ook nie liefde of selfs net gewone ordentlikheid nie. 

Elke karakter is so tragies ’n mens wil ween oor hul lot en erger nog, hul vasgehoktheid in hul situasies – soos katte op warm sinkplaat. Dit raak amper net te veel vir ’n teaterganger om te verwerk vroeg op ’n Sondagoggend. 

Die taalgebruik is ’n verdere aanslag veral dit wat op vrouekarakters gemik word.

Laudo Liebenberg se Boelas, ’n eertydse rugbyheld, drink homself in ’n beswyming. Sy lewe het geëindig met die dood van sy beste vriend Casper. Was daar dalk meer tussen hulle as ’n Dawid-en-Jonatan-vriendskap? ’n “Vreemde liefde” wat hy nie durf bekend maak in die macho-rugbykringe waar hy vergruis gaan word nie? 

Sy walging in die lewe lê soos ’n bank besoedeling oor die verhoog ’n mens verstik bykans daaraan. Liebenberg is uitstekend as ’n lomp mensmassa wat met moeite aankruie. 

Sy aantreklike vrou, Maggie (Tinarie van Wyk Loots), probeer haar bes om ’n liefdesvuur te bly stook – dis futiel. In haar smaraggroen aandrok, lenige lyf en volslae kwesbaarheid is sy so uit plek, tot jy haar eintlike geheim agterkom. Die katverwysings draai om haar karakter, hoewel almal hier katvoet oor die kole is.

Die disfunksionaliteit kry nog donkerder skakerings met Marion Holm se Moeksie en Weyers se pa Piet. Moeks hou als in stand met ’n oordrewe vals lewenslus en ’n geregtrekkery van die sagte bekleedsels en pa Piet swaai die septer as dit by toksiese manlikheid kom.

Boelas se prokureursbroer, Buffel (Albert Pretorius), en dié se vrou, Jollie (Martelize Kolwer), se oog is op ’n erfporsie wat miljoene der miljoene sterk is. Hulle is dan o, so respektabel, hy werk en sy doen haar vroulike voortplantingsplig – hulle meen duidelik dit kom hulle toe; hy is ook die eersgeborene.

Die disfunksionaliteit kry nog donkerder skakerings met Marion Holm se Moeksie en Weyers se pa Piet. Moeks hou als in stand met ’n oordrewe vals lewenslus en ’n geregtrekkery van die sagte bekleedsels en pa Piet swaai die septer as dit by toksiese manlikheid kom. 

Hy blyk ’n sagte plek te hê vir sy Boela. Die gesprek tussen pa en seun raak die hart omdat hul eensaamheid oplaas erken word. 

Die Mouton-familie is ver heen, die spieël draai na die teaterganger.

Als kring uit in twee uur en kulmineer in ’n tromp-op botsing, dit is pure hoogdrama. ’n Mens hoef nie ’n siener te wees om te weet dat die stuk pryse gaan versamel nie.

Scheepers en sy akteurs is in hoogste rat, dinge loop sekuur. 

Katvoet sny vlymskerp deur alle verdigsels en versinsels wat die mens opmaak om sy lot weg te steek. Almal sterf. Al wat ’n mens eintlik het, is dit wat jy gee. Daarom ruk die Mouton-familie jou so.