Via Netwerk24

Hierdie resensent het verlang na Marthinus Basson se regie – en dit gekry – en is op die plek gereduseer tot ’n “snotterende” wrak. In hierdie produksie is daar weliswaar ’n besadigder, ietwat meer realistiese Basson aan die woeker. Daar is geen sprake van groteske emmers vol bloed nie. Dis ingehoue, maar algeheel verpletterend. ’n Senu-ineenstorting.

Met die instap, transponeer die stel die (grotendeels wit) gehoor na ons gedeelde plaasverlede: plankvloere, bal-en-klou-sitkamerstel met sprinbokvelkussings, nguni-vel as tapyt, geraamde foto’s van streng voorsate teen die mure, gangtafel en kapstok met John Deere-pet, ’n lammer wat weemoedig blêr in die agtergrond. En bierbottels onder die meubels. Êrens in ons almal se verlede was daar só ’n sitkamer – weliswaar miskien sonder die bottels.

Jana (Carla Smith) word deur haar oom Johan na die familieplaas ontbied, want hy is bekommerd oor haar pa, (Albert Pretorius) wat saans op die dorp drink en teen 12:00 die volgende dag nog onkapabel op die rusbank lê. Sy onderbreek haar studies om op die plaas te kom help. Sy is ’n sterk, aansienlike boervrou in kakie.

Is daar al genoeg geskryf oor die sexygeit van Pretorius? Hoe hy sy lyf ten volle bewoon, selfs wanneer hy kaalbolyf op die beesvelmat “uitgepaas” lê; hoeveel patos daar in ’n groot wit lyf met ’n boudgleuf en ’n vou onder die boep skuil. Hy is ’n regvaardige, sensitiewe man wat nie kan huishou met die spoke van sy verlede tydens die grensoorlog nie. Wanneer hy die slag nugter is, is daar ’n onuitspreeklike waardigheid in sy lyf in Veldfokus-hemp en kakiekleurige kniebroek.

Dit gaan, soos die titel verklap, oor grond en geweld, oor die geraamtes van die verlede en hoedat die enigste skrale hoop op ’n skerfie genesing of versoening is om die daglig op die etterende gebeentes te laat skyn.

Sy broer, Johan, is Stian Bam, en wat ’n loslit, boefagtige paaiboelie is hy nie – soveel so dat die gehoor na hul asem snak wanneer hy die verhoog op slenter. Hy glo dat hulle in die grensoorlog bloot gedoen het wat hulle aangesê is om te doen, en dat ’n man moet aanbeweeg. Hy noem dit selfs die beste jare van sy lewe. Hy gebruik die “k”-woord – iemand het uitgestap. Iemand het ook uitgestap tydens ’n verkragting (af van die verhoog).

Smith se vertolking is intelligent, ingehoue en intens. Haar kindertydvriend (Obed de Koker) is onmiddellik ’n verdagte toe daar ’n plaasaanval gebeur, omdat hy swart is. Haar oom waarsku teen die swart gevaar, maar soos dit so dikwels die geval is, skuil die werklike gevaar in die geledere van die wit Afrikaanse patriargale bestel; ’n adder in eie boesem. Die vroue is stom slagoffers wat swyg om die mans te beskerm en die patriargie op te hou, en uit misplaaste ordentlikheid.

Dit gaan, soos die titel verklap, oor grond en geweld, oor die geraamtes van die verlede en hoedat die enigste skrale hoop op ’n skerfie genesing of versoening is om die daglig op die etterende gebeentes te laat skyn.

Die toneel waar Pretorius by die eetkamertafel breek en “soos ’n meisie” huil, is onvergeetlik, my vingers jeuk om “kragtoer” te tik. Waar hy snik dat dit seer is om seer te maak, dat almal altyd dink aan diegene wat seergekry het, en niemand simpatie het met dié wat seergemaak het nie.

Soos Melk en vleis is Bloed en bodem deur die visioenêre nuweling Marina Albertyn geskryf en deur dieselfde span na die planke gebring – formidabele teatermakers aan wie se bene daar heelwat vleis is. En sening en harsing. Dis my onbetwiste wenner tot dusver.