Kapenaars het enkele dae om die veelbekroonde toneelstuk Koningin Lear in die Baxter­teater in Rondebosch te beleef. Dit kom oplaas ná suksesvolle speelvakke en ritse pryse – agt Kannas op die Klein Karoo Nasionale Kuns­tefees en vyf beeldjies op Aardklop – na die Moederstad.

Fiksie word onheilspellend werklikheid in dié grootse stuk oor Ma Lear, ’n aarts­kapitalis wat handel en verhandel sonder om ’n snars om te gee vir die uitskot. Haar oog is altyd op die opbrengs en dit blyk haar drie seuns is sy uitgeknip – of dan nie? Die plundertog van kapitalisme, die vernietiging van die planeet is eietydse betekenislae wat ook ontgin word.

André Roothman in ‘Koningin Lear’.Foto: Hans van der Veen


Fiksie word onheilspellend werklikheid in dié grootse stuk oor Ma Lear, ’n aarts­kapitalis wat handel en verhandel sonder om ’n snars om te gee vir die uitskot. Haar oog is altyd op die opbrengs en dit blyk haar drie seuns is sy uitgeknip – of dan nie? Die plundertog van kapitalisme, die vernietiging van die planeet is eietydse betekenislae wat ook ontgin word.

Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk wat dié vlagskipstuk vir vanjaar se 25ste KKNK vervaardig het, sê dit is die laaste sien van die stuk, want “produksies van dié omvang word nie aldag gesien nie”.

Koningin Lear is ’n herverbeelding van William Shakespeare se tragedie King Lear deur een van België se mees gevierde lewende dramaturge, Tom Lanoye, met vertaling deur die digter Antjie Krog en regie deur Marthinus Basson. Dié gedugte drietal was ook verantwoordelik vir Mamma Medea in 2001.

Antoinette Kellermann is aan die stuur as Elizabeth Lear, ’n sakevrou wat haar omvangryke sakeryk aan een van haar drie seuns wil bemaak – maar sy het streng voorskrifte en daar is verreikende gevolge vir almal.

Antoinette Kellermann en Neels van Jaarsveld in ‘Koningin Lear’.Foto: Nardus Engelbrecht

Lanoye het Koningin Lear met Kellermann in gedagte geskryf. Hy vergelyk haar met die groot Lears soos die Britse akteurs Laurence Olivier of Ian McKellen. Die droom-ensemble betrokke is sekuur gekies deur Basson: André Roothman, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais, Neels van Jaarsveld, Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en die nuweling Matthew Stuurman.

Roothman, ’n gereelde medewerker van Basson, vertolk die rol van Kent. Hy meen die grootste uitdaging aan die akteurs was om die komplekse karakters ’n egtheid te gee “terwyl die wêreld om hulle in duie stort en hulle hul eie innerlike noodlot bloedig aanstook”.

Lanoye het eienskappe van Shakespeare se karakters Gloucester en Kent saamgevoeg vir Roothman se karakter, wie se lot vroeg in die stuk die gehoor aan die hart gryp. Weens ’n skielike daad van verskriklike geweld jeens Kent, ervaar die gehoor geweld aan die persoon as “eksistensiële krisis”. Dit is iets waarmee menige Suid-Afrikaner tans kan identifiseer. ­Lanoye benut die karakter om “die strukturele geweld in die familie, maar ook in die maatskappy bloot te lê”.

Roothman meen ook Lanoye bied ’n veel donkerder toekomsblik as Shakespeare in sy Koningin Lear en dat daar ’n katarsis wag op gehore.

“Die dood van koningin Lear se gunsteling stuur dieselfde boodskap van offerande as die belofte van liefde en opoffering in die Christusverhaal,” sê Roothman. Soos sy karakter sê: “Donker en droewig is die aardse bestaan, maar ons herdenk steeds die onskuld”.