’n Mis met Suid-Afrikaanse musiekinvloede deur die groot kreatiewe geeste Antjie Krog, Antoni Schonken en Marthinus Basson word tans geskep om volgende jaar op die US Woordfees te debuteer.

Dié projek is na analogie van die bekende Latyns-Spaanse Misa Criollaen die Kongolese Missa Luba, wat ook op die Katolieke mis geskoei is, maar met musiek gekleur deur ’n eiesoortige nasionale klank.

Die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) het opdrag gegee vir die skryf van sodanige mis en Basson as die kreatiewe hoof aangestel. Hy het toe Krog vir ’n nuwe teks genader en Schonken vir die musiek.

Hoewel die werk eers volgende jaar uitgevoer sal word, is dit reeds ver genoeg ontwikkel dat ’n demonstrasielesing op die Klein Karoo Klassique in Augustus aangebied kan word. Schonken sal fragmente sing en Krog sal uit haar teks voorlees. Daarna sal ’n gesprek met die gehoor gevoer word.

Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, sê die doel is om gehoorterugvoering te kry terwyl die skeppingsproses nog aan die gang is.

Die Kaapstad-operakoor en verskeie soliste sal die werke met ’n ensemble van tradisionele instrumentaliste uitvoer. Dit is nie net die Mis(SA) wat gehoor sal word nie. Die konsert sal begin met die Missa Luba en Misa Criolla en afsluit met die Mis (SA).

Ná die Woordfees sal die produksie op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn en die Suidoosterfees in Kaapstad aangebied word.

Faasen vertel die Missa Luba is gekomponeer deur Guido Haazen, ’n Belgiese priester, wat in die 1950’s in die Kongo gewerk het.

Hy en die Baluba-mense van Kasai en Katanga het die mis deur improvisasies van tradisionele musiek ontwikkel.

In 1958 is die werk saam met die Weense Seunskoor in België, Nederland en Duitsland uitgevoer waarna ook ’n opname daarvan gemaak is.

Ariel Ramírez (1921-2010), ’n Argentynse komponis en pianis wat graag volksmusiek in sy komposisies gebruik het, het internasionale bekendheid met sy Misa Criolla verwerf.

Dié Misa duur 16 minute en word uitgevoer deur ’n gemengde koor, soliste en tradisionele instrumente. Dit is in 1965 opgeneem met Ramírez self as dirigent en Los Fronterizos as gaskunstenaars.

*Die Klein Karoo Klassique, waar ’n demonstrasielesing van die Mis(SA) aangebied word, is van 9 tot 12 Augustus in Oudtshoorn.

Antoni Schonken, ’n komponis verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.

Antjie Krog Foto: Lulama Zenzile

Marthinus Basson Foto: Jaco Marais