Die kragtige drama Koningin Lear is nou op die planke in die Baxter-teater. Dit is ’n komplekse en uitdagende stuk, kortom briljant, skryf Joan Hambidge.

Tom Lanoye se drama Koningin Lear (vertaal en gekontekstualiseer deur Antjie Krog) met die uitstaande regisseur Marthinus Basson is ’n komplekse, briljante teaterervaring. Dit ontstig en boei om verskeie redes.

Die herwerking van Shakespeare se King Lear word ’n stereoskopiese ervaring van ’n teks verplaas na Vlaams en Afrikaans bekend aan vertalings. 

Die magspanninge in die oorspronklike drama word na hierdie land verplant met verwysings na Steinhoff. Op die televisieskerm bó – wat die storie vorentoe dryf – is Julius Malema en tornado’s in Miami. Eers stilte; geboue in New York wat dan al hoe meer spannend en verwoestend raak. Die storm en oorlog in die oorspronklike teks word so geaktiveer.

’n Gesprek met ’n seun in die Ooste vind plaas op Skype. Daar is selfone. So behalwe vir die vertaling/verwerking wat alreeds stereoskopies in aanbod is, vind ons ook moderne tegnologie wat elke gesprek verder kompliseer.

George Steiner het in The death of tragedy (1961) geskryf in King Lear die “weight of the suffering lies in the prose”. Hy wys op die verskillende taaldimensies in die stuk; iets wat sowel Lanoye as Krog opvang.

Die openingstoneel van die kragtige drama Koningin Lear wat vir ’n kort speelvak in die Baxter-teater opgevoer word.Foto: Nardus Engelbrecht

Verder ruil Lanoye die gegewe om en maak hy van die magsbasis ’n genderkwessie. Ons het nou ’n Koningin Lear, ’n matriarg, vertolk deur Antoinette Kellermann wat haar register volledig bestryk. Eers as die beheerder van haar kinders en welvaart; dan as ’n verloederde persoon wat psigiese beheer verloor. Die waansin – so bekend aan vele Shakespeare-dramas – word hier ondersoek. Die klere verander. Eers korporatiewe drag; dan slaapklere, ’n deursigtige rokkie . . .

Van hakkies na plakkies. En ’n kapsel wat maller en deurmekaarder raak.

Kellermann word ondersteun deur medespelers: die twee skoondogters (vertolk deur Rolanda Marais en Anna-Mart van der Merwe) se klere verraai ook hul innerlike. (Alison Lurie wys immers in The language of clothes van 1981 dat klere ’n persoon opsom). Roland Marais is spoggerig geklee en Anna-Mart van der Merwe dra blink, uitspattige klere. Hul aksente verraai ook hul stand en wanneer Marais brry, is sy weerloos in die rusie oor kinderloosheid en die jaloesie tussen die skoonsusters. Van der Merwe is skitterend in haar vertolking van ’n dom, manipulerende vrou. Die matriarg noem hulle pofadders.

Want die matriarg wat haar naam wil druk op aandele, beheer haar kinders met afpersing. Die emosionele geweld in hierdie familie-romanse word ’n tragedie met die waansin en dood van ’n kind.

André Roothman se transformasie van raadgewer tot blinde man simboliseer wat in hierdie drama gebeur. Sy liggaamsbeheer is oortuigend. Kyk hoe staan hy eers . . . Neels van Jaarsveld bewys weer vierkantig hóé veelsydig hy is. In sy benepe blou pak klere probeer hy sy broers troef: Wilhelm van der Walt en Edwin van der Walt wat puik is in hul vertolkings. Matthew Stuurman praat Engels en Afrikaans – om die spieëlaspek van vertaling verder te beklemtoon. Edwin van der Walt (as Cornald) ruk aan die hart wanneer hy ’n vertrapte, verslaafde vertolk.

Basson is ’n ou hand. Hy weet presies hoé om die grensoorskrydende te navigeer. Die gehoor het dikwels gelag vir die taal wat skerp, beeldend en selfs vuig is. Nou ja, lag is ’n komplekse emosie.

’n Mens sou ook oor die musiek kon skryf wat verder die dramatiek van alles beklemtoon. Die naaktheid en sekstoneel is goed ingebed. Basson is ’n ou hand. Hy weet presies hoé om die grensoorskrydende te navigeer.

Die gehoor het dikwels gelag vir die taal wat skerp, beeldend en selfs vuig is. Nou ja, lag is ’n komplekse emosie.

In die eerste helfte van die drie uur lange produksie word die sleutels gegee wat die kyker in die tweede helfte sien ontplof. Die klein besigheid tot sakeryk. Lojaliteite wat geëis word met ’n jongste broer wat nie wil saamspeel nie. Familietwis en hebsug.

Hierdie teks is ’n hérverbeelding van die oorspronklike soos die Hamlet-rolprent (2000 van Michael Almereyda) met Ethan Hawke.

Harold Bloom het insigryk geskryf oor King Lear wat hy as meer ironies as Hamletbeskou het in Lear: The great image of authority (2018).

Kyk wat gebeur in hierdie drama met Cordelia, Goneril en Regan . . . en kyk hoe die props verwyder word deur behendige teaterlui.

En Elizabeth Lear se jambes oortuig ’n Tumor met die voorkoms van ’n mens, / ’n pitsweer wat ek met ’n seun verwar . . .”

Hugo Theart het dit as opdragstuk opgevoer vir die 25ste bestaansjaar van die KKNK en so ’n man moet eweneens die eer kry.