Babbel, brabbel en onsin. (Die Burger – Laetitia Pople)

Só praat ’n baba en so ook ’n nar. ’n Mens verstaan instinktief wat hulle op die hart het en daar word met die minimum klanke gekommunikeer.

Die nar met die rooi neus wat net hier en daar ’n woord sê, is die spilpunt van die mals en speelse vertoning Babbelagtig, een van die treffende debute op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn. Hier is dit heeldag sirkus en speeltyd.

Dit laat kinders en oues jil van pret en plesier. Sewe bedrewe akteurs is op die verhoog – die sewe is al bekend vir hul hansworsery, ook vir absolute beheer van hul liggame – van kroontjie tot kleintoontjie. Hulle plooi en vorm hul gomlastieklywe na willekeur.

Die rooi neuse mag als vrolik inkleur of die gewone omskep in iets besonders of selfs ’n ernstige kontrapunt vorm – die kuns lê ook in die res van die gesig en in die lyf.

Die teks is geskep deur die geselskap en is klein, oënskynlik alledaagse storietjies soos ’n man wat eende voer, ’n uitkampery met knaende muskiete in die tent, ’n eensame siel wat aansit vir ’n maal met bure wat pla, perdejoggies en die skare wat meeding by ’n perderesies of ’n skaam seun wat vir ’n meisie blomme wil gee.

Storietjies so universeel dat dit in van ’n Karoodorp aan die suidpunt van Afrika tot by ’n wêreldstad aanklank sal vind.

Geen van die name, De Klerk Oelofse, Roberto Pombo, Dean Balie, Jemma Kahn, Klara van Wyk, Thami Baba en David Viviers, kan uitgesonder word nie. Hulle is elk in eie reg meesterlik en die aanvoering van Jenine Collocott tref die kol.

Elke nar het sy eie karakter en bydrae. Dit is nie maklik om speels te wees nie dit is harde lyf- en kopwerk.

Daar is vele oomblikke wat prettig vassteek; Pombo wat die eende – die gehoor – voer, die gehoor wat gehoorsaam kwaak, die befoeterdheid van Kahn wat tot in haar optrekskouers sit, die vliegtuigie gevorm deur die sewe se lywe wat die lug in skiet met net ’n lint as skroef, Balie se opstaankuif, Viviers se hoogtrippel-pronkperd en die sprekende bewyse hoekom Oelofse se karakter deurentyd ’n valhelm moet dra.

Babbelagtig is met groot sorg en manjifiek na die planke gebring; Charl-Johan Lingenvelder se klankbaan is op sigself ’n plesier. Hoogdrawende opera, Jack Parow tot ’n nonsens-feesliedjie kleur die heerlike hansworsery met nog ’n skakering van verwondering in.

’n Legio wêrelde word met gewone skuiframe afgewissel. Wolf Britz se ontwerp met speelballe en ballonne tot hoepels en blinkertjies is oudergewoonte treffend aangewend.

Babbelagtig is ’n skitterproduksie wat wyd aanklank sal vind. Dit por dit ons aan om elke dag ons menswees te vier.