Tradisionele volksmusiek gevier (Laetitia Pople)

’n Lepeltjie soet is vir jou koffie, ’n lepeltjie vol snare is ’n heeltemal ander ervaring van musiek en dit het op eie bodem hier in Suid-Afrika ontstaan.

Op die verhoog in die Windpomp-teater op die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees sit die legende Hannes Coetzee. Hy word op die Karoofees in Oudtshoorn gehuldig met ’n Kunste Onbeperk-prys vir sy lewensbydrae tot musiek.

In die musiekkonsert Lepeltjie vol snare, ’n viering van tradisionele Suid-Afrikaanse volksmusiek, maak Coetzee saam met Frazer Barry, Earl Witbooi, Loit Sols en Deniel Barry musiek.

Die musiektowenaar het sy rooi kitaar liefderik op die skoot. Hy speel daardie kitaar, hy pluk en ruk aan die snare en hy knyp ook.

Dan, wanneer daar te min klanke is, die klanklandskap te ontoereikend na Coetzee se sin, span hy die teelepeltjie in. Dít knyp hy in sy mond vas en laat dit oor die snare gly en só tower hy nog ’n magdom klanke by. Sy voete skuifel oor die vloer.

Later wip hy op en dans asof sy voete jeuk en hy gee ’n vinnige agterop skoppie hier en daar. Ses dekades se musiek loop in die are van dié boorling van Herbertsdale in die Langtou-vallei naby Mosselbaai. Hy speel ook sy jongste komposisie, “Jikkende voetjies”, en daar laat waai sy voete weer op hul eie.

Die gehoor hoor so ’n bietjie van Coetzee se lewensverhaal vandat hy as 14-jarige kind op ’n bokskitaar leer speel het. Barry pols hom ook oor groter sake soos die liefde – waarop Coetzee droogweg antwoord “dit is ’n chaos”.

Dan trek hy weg met ’n weemoedige ballade oor gefnuikte liefde.

Coetzee se musiek het hom ná David Kramer se bekroonde Karoomusiek-vertoning Karoo kitaar blues – ’n grensverskuiwende en verruimde bestekopname van inheemse Suid-Afrikaanse musiek – na Amerika en Nederland geneem, waar hy mense verstom gelaat het oor die glyteelepel-tegniek. Tog sit dit nie in enigeen se broek om musiekmaak met ’n teelepeltjie te bemeester nie.

Die “apprentice” Barry probeer op die verhoog – ná wat hy noem sy kwartaal se oefen – ook met die lepeltjie glyspeel.

In die pioniersgees van oom Hannes gebruik Barry dit met die banjo en jaag só sy eie, unieke klanke op in die musiekheelal.

Hy skep iets nuuts en unieks snare. Lepeltjie vol

met ’n ander stempel.

Daar is ’n lekker toegif en dié aandjie met Coetzee en kie brand nog lank in die geheue soos ’n gesellige vuurtjie.

Lepeltjie vol snare word nog tot Dinsdag op die fees aangebied. Lepeltjie vol snare.