Deur Mercy Kannemeyer / LitNet

Die dans van die watermeid, geskryf deur Amee Lekas, speel af in die Karoodorpie Willowmore. Die rol van die kerk, verkragting, verlies en familie is van die temas wat in die storie aan bod kom. Die watermeid (waternimf of meermin) is die mitiese figuur wat tot die dorpie se redding moet kom, want die mense is radeloos en weet nie meer waarheen om hulself te wend om hulp nie. Die hoop is op die watermeid, want sy is op pad …

Lekas (27) is in Willowmore gebore en het haar graad in drama en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Daarna werk sy vir ’n rukkie in Bloemfontein as skrywer, regisseur en aktrise. Sy bly tans weer op Willowmore en is betrokke in gemeenskapswerk en sy skryf ook van daar. “Dit voel nog onwerklik. Ek kom nou eers tot die besef wat ’n groot geleentheid vir my aangebied is. Om my eerste professionele teks in die Baxterteater aan te bied en om Saartjie Botha as mentor te hê is ’n groot voorreg”, sê Lekas oor die ervaring.

Die regie van Die dans van die watermeid is behartig deur Jason Jacobs (25), wat vanjaar deur Kunste Onbeperk vereer is as ’n nuwe stem in teater. Jacobs, wat onder leiding van Lara Foot gewerk het, se regie komplementeer Lekas se teks en sy fyn spelleiding kom deur nes in sy ander werke, Kalahari Swan, In wag van en Stof rooi. In Die dans van die watermeid oorskry die teks nie die regie nie, en ook nie andersom nie. Dit is as’t ware ’n harmoniese teaterervaring, veral teen die agtergrond van die moeilike materiaal wat deur die stuk aangespreek word.

Verkragting is een van die sentrale temas, en die kind se weerloosheid, tesame met die familie se verantwoordelikheid om na die kind om te sien, word in die stuk belig. Dit raak egter gekompliseerd wanneer die skuldige persoon ’n belangrike figuur in die gemeenskap is – soos die dominee. Die stuk is hoogs relevant in die klimaat wat hom die afgelope ruk uitspeel. Soos wat ons die afgelope ruk op sosiale media en in die nuus gesien het, word belangrike en bekende figure soos Kevin Spacey, Harvey Weinstein, die President, uitgelig as seksuele oortreders. En dit maak dat die toneelstuk sterk resoneer met die tyd waarin ons ons tans bevind. Veral ook na die #metoo-veldtog besef ’n mens net opnuut hoe verkragting en seksuele teistering gróót sosiale euwels is en die aantal mense wat daardeur geraak word. Dit laat ’n mens ook wonder oor jou verantwoordelikheid as ’n burger. Hoe gaan ons beter na mekaar omsien?

Hier is dus ’n sterk en goeie voorbeeld van teater wat die samelewing kan transformeer, en teater wat lig laat skyn op onderwerpe wat wil voorkom asof daar nie teater van gemaak kan word nie. Aan die einde van die opvoering sit van die gehoorlede eers stil en in verwondering, want dié stuk roer aan jou binneste.

Die toneelgeselskap bestaan uit Rehane Abrahams, Gretchen Ramsden, Ephraim Gordon, Elton Landrew, Abduraghmaan Adams en Celeste Matthews-Wannenbürgh. Die geselskap gaan met geloofwaardigheid te werk om lewe te gee aan Lekas se woorde, en onder die bekwame regie van Jacobs kom daar nuanses uit die teks wat vir elke gehoorlid iets kan beteken. Daar is fyn omgegaan met simboliek en Lekas en Jacobs kry dit reg om beelde op te tower wat my as gehoorlid in bewondering laat sit het. Die geselskap funksioneer as ’n ensemble en nie een van hulle steek af by hul medespelers nie. Die jongste speler is Ramsden, wat tans ’n finalejaar-dramastudent aan die Universiteit van Kaapstad is. Sy lewer ’n puik vertoning en haar energieke, dog rou, spel kom deur in die hartseer karaker wat sy vertolk.

Birrie le Roux was verantwoordelik vir die stel- en kostuumontwerp en sy skets as’t ware die realiteit saam met die magiese. Die stel is netjies, gedetailleerd en laat ruimte vir die verbeelding – die kettings wat uit die teater se dak uit hang, herinner aan reën wat val, want die watermeid is op pad. Die magiese word dus vervleg met die realiteit, en dit bly steeds eg aan die karakters wie se stories vertel word.

Mentorskap het ’n groot rol gespeel in die skeppingsproses van Die dans van die watermeid. Lekas se teksmentor was Saartjie Botha en soos reeds genoem, was Lara Foot Jacobs se regiementor. Dit is opwindend dat gesoute teatermakers bereid is om hande te vat met jonger teatermakers en sodoende terug te ploeg in die kunste. Mentorskap is belangrik, want so word kennis en wysheid oorgedra en word daar verseker dat gehalteteater geskep word.

Aan jong skrywers sê Lekas: “Dit is belangrik om te besef hoeveel verantwoordelikheid jy aanvaar wanneer jy skryf. Jy moet weet wat die moontlike uitwerking en gevolge kan wees van jou inhoud en as jy in die gelukkige posisie is om leiding te ontvang, soos ek, moet jy ten volle van die kans gebruik maak.”

* Die dans van die watermeid speel nog tot 25 November in die Baxterteater.