Die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), ʼn projek van die Dagbreek Trust, beleef ʼn baie opwindende jaar. Ons het gesels met Cornelia Faasen, die hoof uitvoerende beampte.

Wat presies is NATi?

Dis ʼn befondsings- en ontwikkelingsinisiatief van die Dagbreek Trust. Die doel is om verdienstelike Afrikaanse teater te bevorder. Ons hooffokus is die ontwikkeling van nuwe werk wat via ons befondsing ’n langer rakleeftyd het. Dikwels ontwikkel feeste of vervaardigers baie goeie werk maar daar is nie befondsing om dit na ander feeste te laat toer of na teaters te bring nie. Ons glo dat Afrikaanse teater die afgelope paar jaar baie hoë standaarde gehandhaaf het, en ons wil graag ’n belangrike rol speel in die uitbou hiervan. Ons is ook baie opgewonde oor die aantal werksgeleenthede wat die inisiatief oor die laaste twee jaar geskep het.

Hoe besluit julle watter stukke verdien meer aandag?

My werk is om soveel moontlik teater te sien en met soveel moontlik mense in die bedryf te gesels en saam te werk. Ons werk direk saam met die Feesteforum. Dis ʼn liggaam wat bestaan uit die hoofde en kreatiewe hoofde van die Suidoosterfees, KKNK, Aardklop, Vrystaat Kunstefees, Innibos en Woordfees om die werk te identifiseer en te vervaardig.

Waarby is julle betrokke?

Ons is onder meer betrokke by ’n aantal projekte wat handel oor die ontwikkeling van nuwe tekste, nuwe stemme en nuwe literatuur via die teater. Vir 2019 beplan ons ’n reuseprojek met die herskryf van die Misa Criolla in ’n Suid-Afrikaanse konteks. Marthinus Basson en Antjie Krog het beide ingestem om deel te wees van die projek, en Cape Town Opera gaan ook betrokke wees. Nog ʼn fokusarea is die skep van gehalte teaterproduksies wat gehore geniet. Hier kyk ons na klassieke werke, komedies en klugte en kinder- en jeugteater.

Het julle voorkeure oor genres?

Glad nie. Ons probeer streef na ’n balans in terme van tematiek, nuwe vs klassieke werke, genres, jonger kunstenaars, ouer kunstenaars en dies meer. Dit is dus bietjie soos om ’n kurator te wees van ’n baie groot kunsuitstalling. Net omdat ’n stuk nie in ʼn spesifieke jaar gekies word nie, beteken dit nie ons sien nie die waarde van die werk in nie. Maar ons mag nie vasval in dieselfde werk deur dieselfde mense nie. Dit is belangrik om ook groei en vernuwing in die bedryf te stimuleer sonder om ons gehore te vervreem, hoewel ’n bietjie vervreemding en uitdaging altyd ’n goeie ding is.

Watter Afrikaanse produksies het julle alles hierdie jaar befonds?

Ons vier vlagskipproduksies was Die Vlammende FezPiekniek by MpandeBuiteLand en Asem. Dan het ons ook “kleiner” werke befonds wat deur die feeste self geïdentifiseer is as hul “hanslam”-projekte:  Monsieur Ibrahim en die blomme van die KoranAmper FamousSing jy van BommeGifAltaarNag van LegioHalfleeg en Manne. Ons befonds ook spesifieke speelvakke van produksies by spesifieke feeste. Dit is verdienstelike werk wat reeds ontwikkel is, maar wat nie noodwendig geld het om te toer met die produksie nie. Voorbeelde hiervan is Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa, ʼn tydlose stuk uit die pen van Chris Barnard, Dop en Deurnis, wat al drie binnekort ook by Aardklop te sien sal wees.

Julle werk selfs saam met die Baxter Teater in Kaapstad…

Ja, ons ontwikkel ’n teks van die jong skrywer Amee Lekas, getiteld Dans van die Watermeid saam met die Baxter. Hulle het aan boord gekom as vennoot juis weens Amee se goeie teks. Die stuk handel oor die lewens van die gemeenskap in Willowmore en hul geloof en bygelowigheid, en handel spesifiek oor die mite van die watermeid. Dit is verlede jaar tydens die jaarlikse Nasionale Teksmark deur NATi gekies as die “wenteks” en ons ontwikkel dit nou as ’n volledige produksie.

Wat presies is die Nasionale Teksmark? 

Die Teksmark is ’n inisiatief van Kunste Onbeperk wat deur NATi ondersteun word. Dit vind jaarliks plaas en alle skrywers word genooi om ’n teks te stuur wat nog nooit vantevore opgevoer is nie. Verlede jaar het ons 64 inskrywings ontvang en hierdie jaar amper twee maal soveel. Vanjaar vind dit weer by die Baxter plaas, met planne om dit later ook in die Noorde aan te bied. Die Teksmark is ’n inisiatief om mense bietjie wakker te skud en ons te laat besef ons moet teruggaan na die kern van wat goeie teater skep, naamlik die idee van die idee.

Hoe werk dit? Soos ʼn regte mark?

Ja. ’n Aantal tekste word gekies na ʼn anonieme beoordelingsproses. Rolspelers in die bedryf word genooi om te kom kyk en hulle moet tekste as’t ware identifiseer en “koop” soos wat filmdraaiboeke as “options” gekoop word. Ons verwaarloos werklik ons teaterskrywers in die land – sonder ons dramaturge sal teater doodbloei. Hulle kan nie ’n lewe maak uit slegs skryf nie, maar ons plaas geweldige druk op hulle om nuwe, interessante, uitdagende werk te lewer.

Hoe besluit julle of ʼn produksie lewensvatbaar is?

Daar gaan geweldig baie dinkwerk in die keuses van die werk. Natuurlik help dit dat ons oor befondsing beskik en nie altyd hoef te raap en skraap nie. Die feeste speel ook ’n kardinale rol in die bemarking van die werk om kaartjieverkope te verseker en dit is geweldig belangrik dat stukke genoeg tyd het om te repeteer (’n luukse in vandag se dae) en ook te speel. Teaterwerk het baie tyd nodig om te groei en ook saam met gehore te ontwikkel.

Hoekom is NATi se bydrae so belangrik?

Produksies kry danksy ons bydrae die kans om oor twaalf maande en soms selfs langer te kan speel. Dit skep stabiliteit in die bedryf en dwing ons om ook meer langtermyn te dink oor die konseptualisering en ontwikkeling van nuwe werk. Die Feesteforum se lede doen ongelooflike werk as die kurators van teaterwerk en feesprogramme – dit verg baie goeie finansiële en kreatiewe vernuf, en al hierdie feeste is goud werd vir Afrikaans. Maar finansiële druk striem hulle ook maar om langtermyn en kreatief te kan dink, want hulle moet ’n balans handhaaf tussen kaartjieverkope en werk wat noodsaaklik, maar dalk minder suksesvol kommersieel is. NATi gee ons almal kans om vooruit te kan beplan en tematies te werk. Teater moet ook politiek en sake van die dag aanspreek en ʼn spieël wees vir die samelewing, maar dis nie ’n gesonde model om altyd net op die onmiddellike en die nou gefokus te wees nie. Die beste produksies is dikwels die wat ’n paar jaar gelê en broei het voor dit uiteindelik op die planke verskyn. Dit skep ook gelyklopend die ruimte vir werk met ’n meer onmiddellike fokus. So, dis ’n tweesnydende swaard.

Wat is, volgens jou, die ekonomiese waarde van Afrikaanse teater?

Dis baie moeilik om ʼn spesifieke syfer daaraan te koppel. Net in 2016 alleen het ons deur NATi-ondersteunde produksies meer as ʼn honderd werksgeleenthede geskep. Die feeste self sorg vir ‘n enorme ekonomiese inspuiting aan die dorpe en streke waar dit gehou word. Ons praat van miljoene rande. Dat Afrikaanse teater ’n belangrike werkskepper is, is nie altemit nie. Die uitkringeffek daarvan op gemeenskappe is ontsettend waardevol.

Hoe word julle bydrae deur rolspelers ontvang?

Dis verblydend dat die verskillende feeste en ook die Departement van Kuns en Kultuur so bereid is om saam met ons te werk. Ek glo dit hou verband met die gehalte van die werk wat uit Afrikaanse teatergeledere kom, maar ook die feit dat Afrikaanse teatermakers graag ander tale ook omarm en graag wil saamwerk met ander taal- en kultuurgemeenskappe. Ons is nie behoudend nie, ons is omarmend en bevry. Dit is werklik ’n ongelooflike gemeenskap om van deel te wees.

Die pas afgelope Vrystaat Kunstefees word wyd geloof vir ʼn ryk verskeidenheid teater. Wat is jou mening?

Dit het vir ʼn week lank gevoel soos die Suid-Afrika waarvan ons almal 20 jaar terug gedroom het. Vir ’n oomblik het ons stilgestaan by mekaar en die ongelooflike waarde daarvan besef om na iemand anders se storie te luister. Dit sal ons behoud wees – die vertel van jou eie storie, die aanhoor van ’n ander se storie, maar dan ook die vertel van ander se stories. Dit maak jou meer volledig mens. Ek glo werklik teater leer ons empatie en daarvan het ons hopeloos te min in die land.