Deur Naomi Meyer (Litnet – Die vlammende fez) is nie net een produksie nie, dit is baie. Dit bestaan uit ‘n veelheid van mense se stories, musiek, gesels en geskiedenisse. 

Mens sou kon sê die oorkoepelende verteller is ID du Plessis, ‘n digter wat in 1900 gebore is. Die toneelstuk open waar hy by ‘n tafel sit en sy laaste dae oordink. Dit sluit op dieselfde manier af.

Hoewel ID du Plessis se gedigte lewend word in die stuk deurdat dit deur verskillende akteurs opgevoer of gesing word, word sy wit en manlike stem ook bevraagteken. “Daar is net een ding wat hy van die bruin mens weet,” sê hy op ‘n stadium self. “Die bruin man se lot en gang en lewensloop word bepaal deur wat die wit man sê.”

Die produksie bestaan uit verskillende sketse. Uiteenlopende kommentaar word gelewer op die Kaapse Klopse, op Afrikaans, op die verskillende plekke waarvandaan almal in die land kom.

Nee, almal kom nie van Nederland af nie. Daar is liedere en kostuums uit Arabië, bont en eksoties en heeltemal anders.

Die geskiedenisse wat uitgebeeld word, is nie net arm en ellendig nie. Dit is trots en dapper en mooi.

Daar is ook armoede en daar is prostitute (soos Katrina – “Katrina haat die lewe, Katrina vrees die dood, Katrina gaan haar slentergang, verdien haar bitter brood”).

Die hoogtepunt van die produksie was vir my die 13-stuk-Maleierkoor se sang. Dit was so goed dat ek werklik gehoop het hulle keer weer en weer terug na die verhoog. Te oordeel aan die applous was ek nie die enigste een wat so gedink het nie.

Die stuk ontroer. Dit verlei met sy helder kleure en kostuums. Die sang en musiek is wonderlik. Die stuk vermaak!

Gaan kyk hierdie stuk by enige van die feeste waar dit speel. Stel jou oop om te besef: hier, in hierdie land, is daar baie geskiedenisse. En nie net wit mense as een homogene groep se geskiedenis en ook bruin mense of swart mense as ‘n massa of ‘n skare wat net saamsmelt as gevolg van hul velkleur nie.

Elke mens in hierdie land is ‘n individu. Hy of sy het ‘n eie storie om te vertel. Laat ons nie waag om mekaar se stories te vertel nie. Laat ons eerder na mekaar se stories luister.