Christiaan J de Swardt (LitNet) loer hóé aanvaarbaar naaktheid, seks, geweld en vooroordeel op die verhoog geword het.

In ’n teater is jy ’n vrywillige gevangene; jy mág uitbreek en ontsnap as en wanneer jy wil… Min teatergangers het dit vanjaar gedoen; verblydend.

’n Teken van gehoorvolwassenheid? Baie jare het verloop sedert die regisseur Martinus Basson die DeKat/Herrie-prys in 1998 gewen het vir sy omstrede en veelbesproke produksie van Breyten Breytenbach se toneelstuk Boklied. Die (manlike) naaktheid daarin het talle feesgangers ontstel en mense het die teater met afgryse uitgestrompel om selfs gelaaf te word! Dit is as pornografie bestempel!

Genadiglik het naaktheid aanvaarbaar(der) geword – selfs net vir effek; om te prikkel of te skok. Skrywers, regisseurs en spelers meen egter naaktheid moet gemotiveer en realisties wees; dit moet ’n oomblik van eerlikheid en kwesbaarheid uitbeeld. Ondanks die gehoor se afkeer en weersin destyds, het Boklied ook Vitapryse gewen vir beste produksie, beste regisseur, stel-, kostuum- en beligtingontwerp. Dawid Minnaar was die beste akteur en Antoinette Kellerman die beste vroulike byspeler. Basson, Minnaar en Kellerman is almal vanjaar weer vir Kanna-toekennings benoem. Basson bied twee puik produksies: die Hertzogbekroonde dramaturg Reza de Wet se Asem(Breathing inen Koninkryk van die diere.

Die makabere periodedrama Asem is ’n huldigingsproduksie aan De Wet, wat op 27 Januarie 2012 oorlede is en as een van Suid-Afrika se belangrikste en mees invloedryke toneelskrywers bestempel word.

Asem is benoem vir beste teateraanbieding, debuutwerk en regie (Marthinus Basson), met Antoinette Kellermann as beste aktrise en Edwin van der Walt en Tinarie van Wyk Loots onderskeidelik as beste manlike en vroulike byspeler.